Om weer finansiële vryheid te beleef
Uiteindelik is daar weer hoop na likwidasie en boedeloorgawe. In ‘n rehabilitasie aansoek kan jou naam as insolvent weer herstel word.
In ‘n geval waar ‘n insolvent nie rehabiliteer nie, bly die insolvent se naam vir tien jaar by die kredietburo gelys as gesekwestreer. In hierdie periode mag geen verdere skuld aangegaan word nie. Skuld voor sekwestrasie is ook nie ter sprake nie aangesien dit deel vorm van ‘n insolvente boedel en iets van die verlede is.
Rehabilitasie vereis dat die insolvent se verhouding met sy kurator ten alle tye goed moet wees. Die insolvent se kurator moet toestemming gee vir rehabilitasie en onverantwoordelike optrede kan veroorsaak dat die kurator weier om toestemming te verleen. Ons het ‘n geval gehad waar die insolvent geweier het om die eiendom te ontruim nadat dit verkoop was. Die insolvent het sy opwagting by die kurator se kantore gemaak en die personeel met ‘n vuurwapen aangehou. Die betrokke insolvent sal nooit toestemming vir rehabilitasie verleen word nie.
Sommige kurators stel sekere vereistes aan die insolvent soos byvoorbeeld maandelikse inkomste-en uitgawestate wat ingedien moet word of die bywoning van vergaderings. Dit is belangrik om seker te maak dat daar voldoen word aan hierdie vereistes vir die hele sekwestrasie tydperk.
Die rehabilitasie proses kan eers begin word nadat toestemming van die kurator ontvang is en nadat die likwidasie- en distribusie rekening (L & D) deur die Meester van die Hooggeregshof bekragtig is. Die L & D word deur die kurator opgestel wat aan die hof voorgelê word as aanduiding van hoe al die gelde verreken is.
Sodra ons instruksie ontvang, vanaf die kliënt, om die aansoek om rehabilitasie te bring, vra ons toestemming aan by die kliënt se kurator. Ons benodig die volgende dokumente ten einde ons in staat te stel om die rehabilitasie aansoek te doen, naamlik:
Indien daar eise teen die boedel ingedien is, moet daar ‘n jaar gewag word na die L & D bekragtig is vir rehabilitasie. Indien dit nie die eerste keer is dat ‘n insolvent rehabiliteer nie, is daar ook ‘n drie jaar wag tydperk na bekragtiging van die L & D om te rehabiliteer.
Indien ‘n insolvent skuldig bevind word en gevonnis is vir bedrieglike handelinge, sal die insolvent vir vyf jaar moet wag vir rehabilitasie na bekragtiging van die L & D. Indien daar geen eise bewys is nie, dit ‘n eerste keer rehabilitasie is en dat die insolvent hom nie skuldig gemaak het aan bedrieglike handelinge nie, kan die insolvent direk nadat die L & D bekragtig is aansoek doen om te rehabiliteer.
Dit is belangrik om te let dat die Meester nie ten gunste is van bogemelde nie aangesien daar gevalle aangemeld is waar kliënte hul kredietkaarte leeg getrek het, aansoek gedoen het vir ‘n boedeloorgawe, die kredietkaart geld gebruik het vir die betalings aan die kurator en dan dadelik wou aansoek doen vir rehabilitasie.
Sodra ons bogemelde dokumente ontvang, stel ons ‘n verklaring op wat die kliënt moet onderteken. Die rehabilitasie kennisgewing word onmiddellik in die Staatskoerant gepubliseer. ‘n Verslag word van die kurator aangevra en sodra die verslag ontvang is, word daar ‘n verslag van die Meester van die Hooggeregshof aangevra waarin daar toestemming verleen word dat die rehabilitasie gedoen mag word. Die verslag van die Meester neem gewoonlik ‘n week of twee om te kry, maar daar was al gevalle waar ons tot drie maande daarvoor moes wag. Sonder die verslag kan die rehabilitasie nie voortgaan nie.
Die dag van die verhoor wat in die Hooggeregshof plaasvind, word die kliënt deur ‘n advokaat verteenwoordig. Dit is nie nodig vir die kliënt om die aansoek by te woon nie. Wanneer alles in orde is en die aansoek toegestaan word, is daar gewoonlik ‘n 10 tot 15 dae tydperk waarna ‘n getikte hofbevel ontvang word.
Die kostes beloop R11,300.00. Indien die volle bedrag nie onmiddellik betaal kan word nie, kan dit in twee maande betaal word maar ons moet 50% van die bedrag ontvang, om met die proses te kan begin
Sodra ons die amptelike getikte hofbevel ontvang, stuur ons dit met die nodige dokumentasie na verskeie kredietburo’s soos ITC (Trans Union), Compuscan, Experian en XDS. Van die buro’s vereis dat ‘n dokument deur die kliënt of prokureur ingevul moet word.
ITC neem ongeveer 21 dae om die kliënt se kredietrekord te herstel. Ons kontak ITC nie voor die 21 dae periode verby is nie. Oor die jare het ons vasgestel dat ITC nie ‘n aantekening op hul stelsel maak dat daar wel dokumente ontvang is vir die verwydering van inligting nie, maar na 21 dae is die inligting verwyder.
Dit is belangrik om in gedagte te hou dat ITC se reëls en regulasies van tyd tot tyd verander.
Voorheen was net die hofbevel van die rehabilitasie vir hulle gefaks waarop alle aantekeninge op ITC verwyder is en net die rehabilitasie was aangebring. ‘n Volgende reël het vereis dat hulle geskakel word vir ‘n verwysing van hulle voordat die hofbevel aan hulle gefaks kan word. Op ‘n latere stadium was gemelde prosedure gestaak aangesien ons die derde party is. ITC se nuwe reël was dat hulle gewag het vir die Hooggeregshof om die hofbevel aan hulle te stuur waarna hulle eers aksie sou neem. Daarna is die reël weer verander en kon ons die hofbevel deurstuur met ‘n skriftelike toestemming van die kliënt dat ons namens hom mag optree.
Op ‘n stadium het ITC na ontvangs van die hofbevel die kliënt se hele kredietrekord verwyder en het dit voorgekom asof die kliënt se kredietrekord nou net geskep is. Geen aantekening hoegenaamd van enige vorige skuld of sekwestrasie nie. Ons was verplig om ‘n skrywe, op ons briefhoof, aan hulle te stuur waaraan die hofbevel van die rehabilitasie aanheg was asook die hofbevel van die boedeloorgawe en ‘n gesertifiseerde afskrif van die kliënt se ID dokument. Sedert 2015 vereis hulle ‘n lys van al die krediteure wat deel was van die sekwestrasie.
Op hierdie stadium is dit ongeveer vyf dokumente wat hulle van ons verlang en is die wagperiode 21 dae voordat ons met hulle kan opvolg. Ons het al kliënte gehad wat ons gedurende die 21 dae in kennis gestel dat hulle ‘n sms van ITC ontvang het waarin ITC hulle in kennis stel dat hulle kredietrekord nou weer skoon is.
In ‘n soortgelyke geval het ons ‘n rekord van die betrokke kliënt se ITC aangevra en het dit geblyk het dat daar steeds aantekeninge op die kliënt se naam is. Die inligting in die ITC se sms was dus nie korrek nie. Dit moet ook in gedagte gehou word dat sekere skuldeisers verwag dat ITC die inskrywings op die kliënt se rekord hou en dit slegs na twee jaar na plasing verwyder mag word.
Bogemelde inligting van ITC is om seker te maak dat ons kliënte kennis dra dat ons geweldig sukkel met ITC vir die rede dat hulle nie konsekwent bly met hul prosesse, reëls en/of regulasie nie. Die rede hiervoor is nie heeltemal duidelik nie maar ons neem aan dat dit aanpassings is wat hulle maak om te alle tye aan die nuwe Kredietwet se regulasies en vereistes te voldoen. Wees egter verseker dat ons van ons kant af alles in ons vermoë doen om ons kliënte se name so spoedig moontlik te herstel.
Herstel van kredietrekord koste vir bogenoemde rehabilitasie:
Die totale koste beloop R11 550.00, betaalbaar voordat die proses in werking kan tree.
Indien die rehabilitasie-aansoek gebring word waar die aansoeker getroud is binne gemeenskap van goedere, beloop die fooi slegs R11 550.00 per aansoek (nie R11 550.00 per persoon nie). Die kredietburo’s proses word egter afsonderlik per applikant by die verkillende kredietburo’s hanteer. Dit beteken dat ons vir elke applikant ‘n aparte opdrag opstel en stuur om sy/haar profiel skoon te maak.
Jy sal ook opmerk dat die hofbevel per applikant uitgereik word. Omdat die rehabilitasie persoonlik toegestaan word, word elke applikant se kredietprofiel ook individueel deur die kredietburo’s skoongemaak.
Opsommend:
◦ Rehabilitasie alleen: R11 550.00
◦ Kredietrekord herstel alleen: R5 800.00
◦ Rehabilitasie + Kredietrekord herstel: R17 350.00
◦ Rehabilitasie + Kredietrekord herstel (indien binne gemeenskap van goedere getroud): R23 150.00
Ons firma het al talle kliënte bygestaan wat voorheen buitensporige bedrae (soms tot R55 000.00) betaal het vir rehabilitasie, sonder dat die herstel van hul kredietrekord daarby ingesluit was.
Ons benadering is anders: ons verkies om heeltemal deursigtig te wees met ons kostes, sodat jy as kliënt van die begin af presies weet wat ingesluit is. Ons glo dat eerlike, regverdige pryse en openlike kommunikasie die beste manier is om vertroue te bou – sonder enige onaangename verrassings of uitbuitende fooie.
Die woord ITC bestaan nie meer nie en ons moet blykbaar van 21 werksdae praat.
Moenie mislei word nie. Sommige kollegas belowe dat hulle jou met ’n rehabilitasie-aansoek kan help, maar versuim dikwels om te verduidelik wanneer dit wettiglik gedoen kan word. Die kliënt raak opgewonde en is onder die indruk dat alles in orde is en dat toestemming reeds verkry is. ’n Aansienlike bedrag word dan betaal, net om later te hoor: “Ons is jammer, maar jy moet nog twee jaar wag.”
In sulke gevalle bepaal die getekende dokument dikwels dat die betaalde fooie nie terugbetaalbaar is nie, wat die kliënt sonder enige uitweg laat. Wees asseblief waaksaam en moenie in hierdie situasie vasgevang word nie.
Moet nie moed verloor nie. Daar is beslis hoop na rehabilitasie. Jou naam kan in ere herstel word.
Ons het gedurende September 2009 ‘n rehabilitasie gedoen. Die kliënt het aansoek gedoen vir ‘n lening om ‘n eiendom te koop. Die lening is deur drie banke afgekeur maar ‘n vierde bank het die lening goedgekeur. Volgens die bank, het hulle dit goedgekeur omdat die kliënt haar rekening na sekwestrasie, baie goed hanteer het. Haar salaris was elke maand op dieselfde tyd in die rekening inbetaal (die 25ste), nie een van haar debietorders was teruggeskryf nie. Sy het altyd gesorg dat daar geld in die rekening is, al was daar soms net R50. Die bank het gesê dat hulle kan sien dat sy werklik gerehabiliteer is en reg is om weer ‘n positiewe bydrae tot die ekonomie te maak.
Een van ons kliënte het ons in kennis gestel dat ‘n sekere bank aan hulle ‘n huislening toegestaan het slegs ses maande nadat die rehabilitasie afgehandel was. Sommige banke oorweeg eers ‘n huislening ‘n jaar nadat rehabilitasie toegestaan is.
‘n Baie belangrike faktor wat ‘n rol speel in die toestaan van lenings is debietorders wat geweier word deur die bank. Enige persoon wie se debietorders geweier word of nie hul rekeninge betaal nie, sal nie kan kwalifiseer vir ‘n lening nie. Die Nasionale Kredietwet is baie streng oor laasgenoemde. Die bank sal ook nie ‘n huislening van R10 miljoen toestaan indien die kliënt net vir R1 miljoen kwalifiseer nie.
Laasgenoemde is deel van die Nasionale Kredietwet en is heeltemal apart van “insolvent was en gerehabiliteer wees”.
Sou daar voorgdy fonds geld beskikbaar wees (een van ons dames sal u dadelik daarvan in kennis stel), kan ons jou ook help om die fondse te verhaal vanaf die Meester van die Hooggeregshof. Jy kan dat natuurlik op jou eie doen maar omdat ons dit reeds 29 jaar doen, het ons al die kortpaaie ontdek. Die koste hieraan verbonde sal bepaal word op die bedrag te spake.
Ons missie is om ‘n kwaliteit diens te lewer sonder vals beloftes wat ons weet nie nagekom kan word nie. Dit is belangrik om in ag te neem dat alle burgers van Suid-Afrika onder die Nasionale Kredietwet val en dus dieselfde prosedures en kanale moet volg. ‘n Rehabilitasie aansoek is ‘n Hooggeregshof aangeleentheid wat deur ‘n Regter goedgekeur moet word. Ons poog ook te alle tye om die aansoek so simpatiek as moontlik voor die hof te plaas vir goedkeuring.
Maritha Botha Insvolvensies 1ste Vloer, Roslynstraat 1, Brackenfell, Kaapstad, 7550